
Monnies

Uit die Hoof se Pen
Om ‘n leerder by ‘n skool in te skryf bly maar ‘n groot gebeurtenis, al bly dit by herhaling. Dit is ons uitgangspunt om hierdie gebeurtenis met groot verantwoordelikheid te hanteer.
Baie welkom by ons skool. U kan daarna uitsien dat u kleinding sewe mooi jare by Laerskool Vryheidsmonument gaan deurbring.
Kinders verskil ten opsigte van kultuuragtergrond, emosionele en intellektuele rypheid, gesondheidstoestand en fisieke bekwaamheid, belangstelling en gemotiveerdheid, taalbeheersing, sekuriteit en selfstandigheid. Ons moet dus deeglik van hierdie verskille kennis neem en ons onderrig en onderwys beplan dat elke individu met sy unieke persoonlikheid tot sy volle potensiaal vorder en ontwikkel. Hier by Vryheidsmonument streef ons daarna om ‘n goeie balans te handhaaf tussen kultuur, sport en akademie, met die klem altyd op akademie.
Om bogenoemde te laat realiseer, maak ons staat op kundige personeel wat hulself al oor en oor bewys het. Vryheidsmonument is bevoorreg om oor die dienste van ervare goed opgeleide en gemotiveerde personeel te beskik wat net een doel voor oë het, naamlik die welsyn van die leerders wat aan hulle sorg toevertrou is. Hulle vergader op ‘n weeklikse basis om eie werk te beplan en daardeur word ook verseker dat dieselfde werk in al die klasse gedoen word. Geen klas kan in so ‘n stelsel agter raak nie.
Onderwys het die afgelope jare geweldig verander. Die skool word soos ‘n besigheid bestuur en waar ons kundigheid kortkom, word dit aangevul uit ons puik ouergemeenskap. Die Onderwysdepartement betaal slegs ‘n goedgekeurde aantal onderwysposte en die gemeenskap is verantwoordelik vir die res. Dit sluit geboue in asook die terreinvoorrade en addisionele personeel. Dit spreek daarom vanself dat ons ouers se positiewe gesindheid en ondersteuning vir ons baie belangrik is.
Daarom het ek die vrymoedigheid om u uit te nooi om die pad saam met ons te loop. Hier is baie werk wat afgehandel moet word en ons het elkeen van u baie nodig. As die hele span saamwerk, trek ons kinders daaruit voordeel en help ons hulle om die uitdagings van die toekoms positief tegemoet te gaan.
Moet asseblief nie huiwer om my te kontak indien daar onduidelikhede is nie.
Hier by Monnie spring u kind weg met ‘n voorsprong.
Vriendelike groete!













